Kursusinhoud

Totaal:12 lesse Tydlyn: 12 weke
  • Kry ’n oe-la-la lyf!  0/12

    • Les1.1
      Kry ’n oe-la-la lyf – WEEK 1 15 min Voorskou
    • Les1.2
      Kry ’n oe-la-la lyf – WEEK 2 15 min Voorskou
    • Les1.3
    • Les1.4
    • Les1.5
    • Les1.6
    • Les1.7
    • Les1.8
    • Les1.9
    • Les1.10
    • Les1.11
    • Les1.12

Kry ’n oe-la-la lyf – WEEK 1

Hierdie 12-wekeprogram gaan jou denke oor oefening en voeding vir altyd verander. Dis ’n volle leefstylveranderingsprogram, nie ’n dieet nie! Jy gaan die gewoontes en beginsels leer wat jy vir die res van jou lewe kan gebruik. Dit sal verseker dat jy nooit weer van die een eetplan na die ander hoef te spring nie.

Jy mag dalk wonder: Hoekom gee jy my nie net ’n dieet waarop ek nou 10 kg kan verloor nie? Goeie vraag!

Kom ek verduidelik: Op hoeveel diëte was jy al? Het jy gewig verloor? Jy antwoord seker “ja”. Het jy weer al die gewig opgetel of sommer nog bygesit by die vorige gewig? Is jy nog op daardie dieet? Voel jy enigsins beperk met wat jy mag en nie mag eet nie en dink jy dis lewenslank volhoubaar?

Ek is seker die meeste van jou antwoorde is: “Ja, ek het so ’n bietjie afgeskud op daardie dieet, maar tog weer alles opgetel, want dit is net te moeilik! Ek raak te lus vir die kos wat ek nie mag eet nie … dis nie vir my volhoubaar nie!”

Hierdie aspekte is die grootste rede waarom vroue nie permanent gewig kan verloor en die teikengewig kan behou nie. Daar is net te veel vals inligting met die doel om jou te laat opdok sonder om resultate te haal. Dan koop jy maar nog duur pilletjies of ’n dieetprogram. Die mark maak staat op mense se onkundigheid oor oefening en voeding en dis waar hulle sakke vol geld uit jou kan maak.

Hierdie program is heeltemal anders

Ek kan ’n eet- en oefenprogram in jou hand stop wat jou vinnig ’n paar kilo’s sal laat verloor, maar dit gaan vir seker nie volhoubaar wees nie. Hierdie vinnige gewigsverlies is meestal net ’n bietjie vet wat jy afskud. Die res is bloot water- en spierverlies en ook die oorblywende vesel in die spysverteringskanaal.

Jy gaan op die ou einde opgeskeep sit met ’n stadiger metabolisme.

Vet gaan ook weer makliker in jou liggaam gestoor word omdat jy oor ’n lang tydperk baie minder kalorieë ingekry het. Maar hieroor gesels ek weer later.

In hierdie program wil ek jou stap vir stap leer oor voeding en die voordele van oefen. Ek leer jou om dit in jou daaglikse lewe in te pas, die nuwe gewoontes lewenslank te volg en permanente gewigsverlies te geniet!

Jy moet self die besluit neem

Die keuse is joune! Gaan jy geduldig wees en saam met my ’n pad stap om permanente veranderings te maak? Of wil jy nou boedel oorgee en maar weer op die volgende nuwe towerdieet spring en later weer presies eindig waar jy nou is?

Die keuse is altyd joune, maar ek hoop jy sal my hand vat en saam met my hierdie pad stap.

Welkom by die 12-weke-leefstylveranderingsprogram! Ek is so bly dat jy die keuse gemaak het om saam met my op die reis te gaan!

Jy gaan elke week jou inligtingstukkie oor voeding kry. Dit sal jou beter laat verstaan waaroor alles gaan en hoe dit werk. Ons gaan gesels oor dinge soos makrovoedingstowwe, kalorieë, eetplanne, krag- en kardio-oefeninge, energieverbruik en vele meer. Ons doen dit stap vir stap.

Ek wil jou nie oorrompel met so baie inligting dat jy wil weghardloop nie. Elke week sal jy iets nuuts leer en so jou eetgewoontes begin verander.

Die verandering sal beter gewoontes kweek en later permanent deel van jou lewe wees. Jy sal ook jou oefenvideo ontvang met die oefeninge wat jy vir daardie week gaan doen.

Wees geduldig; dit is ’n proses van verandering, maar dis vir seker die moeite werd! Jy gaan alles wat jy leer lewenslank kan gebruik.

Is jy reg? Laat ons begin!

Ken jy ook die frustrasies van die yo-yo-dieet?

Wat is dit? Dit is wanneer jy vir ’n ruk op ’n dieet gaan, gewig verloor en dan ophou omdat jy dit nie meer kan volhou nie. Dan tel jy weer die gewig op of selfs meer en begin dan weer met ’n ander dieet. Weer verloor jy ’n paar kilo’s, maar tel dit weer oor ’n paar maande op en so gaan die siklus voort.

Hoekom gebeur dit en wat is die slegte nagevolge daarvan?

Die meeste diëte het baie streng beperkings. Hulle skakel baie alledaagse kosse uit, soos lekkergoed, brood, alkohol, selfs sekere styselgroentes soos patats. As ’n mens al dié tipes kos uitsny, skakel jy kaloriedigte kosse uit. Dit word vervang met kosse wat laag in kalorieë is, maar hoog in vesel. Dit laat jou baie versadig voel, jy eet minder en jy kry minder kalorieë in, wat tot gewigsverlies sal lei.

Dis alles goed en wel, want jy kry ook baie voedingstowwe in, maar wie kan dit hou om nooit weer ’n snytjie brood of ’n bakkie roomys te eet of ’n glasie wyn te drink nie?

Dit veroorsaak ’n emosionele verbintenis met kos. ’n Mens begin obsessief raak, want al waaraan jy kan dink, is die lekker toebroodjie wat jou man eet, terwyl jy met ’n bakkie broccoli sit. En jy sê net heeltyd in jou gedagtes vir jouself: Nee, ek mag nie, daardie toebroodjie of roomys is sleg.

 Jou vet word gestoor

Wat alles erger maak, is dat wanneer jou liggaam oor ’n lang tydperk op ’n streng eetplan met min kalorieë is, pas hy aan. Jou metabolisme word stadiger en jou vetselle word kleiner. Sodra jy dan weer gewoonweg begin eet en veral as jy jou ooreet, vul die kleiner vetselle vinnig, en vetselle vermeerder sodat meer vet gestoor kan word vir toekomstige beskerming teen gewigsverlies.

Jou liggaam het tydens die dieet aanpassings gemaak om te verhoed dat hy weer uitgehonger word deur vet vir die maer dae te stoor. Dit is hoekom baie mense gewig aansit en selfs meer weeg as vóór die dieet.

Die proses is baie ongesond! Daar breek dalk ’n slegte dag aan dat jy nie lekker voel nie, of emosioneel of gespanne is, en jy gee net oor. Jy eet alles wat voorkom en ook alles wat jy eintlik nie mag eet nie.

Jy voel wonderlik vir ’n oomblik en dan kom die haat en verwyte. Jy voel depressief en haat jouself dat jy jou so ooreet het. Die meeste vroue gee dan sommer heeltemal op. Dit is verkeerd! Dit is nie hoe ons elke dag moet lewe nie!

Kweek ’n gesonde verhouding met kos

Ons moet weer ’n gesonde verhouding met kos vorm. Jy moet jou lewenstyl verander sonder om op ’n streng dieet te gaan of om van die een dieet na die ander te spring.

Sal jy ’n paar grense moet stel, veral aan die begin? Ja, jy sal, maar nie soos jy dink nie. Kom, laat ek verduidelik.

As jy baie lief is vir witbrood en sommer ses snye op ’n slag kan verorber, sal jy moet leer om dit te beheer. Jy sal dit nog steeds kan eet, maar van nou af sal jy net een of twee witbroodrolletjies oor ’n naweek koop, wat jy saam met ’n braai kan geniet. Moet nie ’n klomp brood in jou huis hou wat jou in die versoeking kan lei nie.

Met verloop van tyd sal dit makliker word. Jy sal weer brood in jou huis kan hou, maar nou sal jy net twee snytjies eet pleks van die hele brood. Dit is ’n gewoonte wat jy moet afleer en vervang met ’n nuwe, gesonder een. Dit kan aan die begin moeilik wees, maar dit raak makliker. Die beste manier is om die versoekings vir ’n tydperk uit te skakel.

Stappie vir stappie, happie vir happie …

Om jou lewenstyl te verander, moet stap vir stap gedoen word. Maak klein veranderings wat nuwe, permanente gewoontes vorm. Nie ’n klomp nuwe dinge alles op een slag nie, want dit is waar ’n mens oorweldig voel en tou opgooi.

Dit is ’n proses wat jy moet aanleer; jy is nie daarmee gebore nie. Dit is ’n keuse wat jy daagliks maak, en later word dit jou nuwe normaal.

Oordink hierdie week al die feite en neem dan daardie besluit om saam met my en baie ander vroue deur hierdie program te stap. Ons gaan dié week net een oefensessie doen. Onthou, klein stappies.

Ek gesels weer volgende week met jou oor verskillende eetplanne en hoekom mense glo dat sekere kosse jou vet maak.

OEFENSESSIE 1

20 sekondes vir elke oefening met 15 sekondes rus tussen die verskillende oefeninge

  1. Staande knie oplig
  2. Skêrsprong
  3. Boudskop
  4. Stoelhurk
  5. Staande vorentoe tree en afsak, regs
  6. Staande vorentoe tree en afsak, links
  7. Trisepsafsak op vloer
  8. Boudspierbrug
  9. Crunches (voete op vloer)
  10. Afwisselende been oplig
  11. Lê op sy en lig been op, regs
  12. Lê op sy en lig been op, links
  13. Staande knie oplig
  14. Stoelhurk
  15. Staande vorentoe tree en afsak, regs
  16. Staande vorentoe tree en afsak, links
  17. Trisepsafsak op vloer
  18. Boudspierbrug
  19. Crunches (voete op vloer)
  20. Afwisselende been oplig
error: Inhoud Is Beskerm!