Kursusinhoud

Totaal:12 lesse Tydlyn: 12 weke
  • Kry ’n oe-la-la lyf!  0/12

    • Les1.1
      Kry ’n oe-la-la lyf – WEEK 1 15 min Voorskou
    • Les1.2
      Kry ’n oe-la-la lyf – WEEK 2 15 min Voorskou
    • Les1.3
    • Les1.4
    • Les1.5
    • Les1.6
    • Les1.7
    • Les1.8
    • Les1.9
    • Les1.10
    • Les1.11
    • Les1.12

Kry ’n oe-la-la lyf – WEEK 2

Eetplanne! Daar is elke week weer ’n nuwe, BESTE eetplan op die mark. Een sê skakel alle stysel uit en eet net proteïene en vet. Die volgende een sê jy kan alles eet, maar niks na sesuur die aand nie en geen suiker nie. Dan is dit net groente- of vrugteskommels vir die volgende maand … en so gaan die lys aan.

Geen wonder die meeste mense is vandag al totaal deurmekaar en weet nie meer watter kant toe nie. Verloor gewig en tel weer alles op en dan probeer ons maar weer volgende Maandag …

Dink gou mooi saam met my: Hoekom dink jy werk sommige eetplanne beter as ander? Of dieselfde eetplan werk vir almal, maar vir party net vir ’n rukkie? Hoekom het jy al met verskillende diëte lekker gewig verloor, maar net vir ’n rukkie?

Al ooit aan hierdie vrae gedink? Is daar nie iets wat vir jou vreemd voorkom nie? Al die eetplanne werk dan? Maar hoekom nie permanent nie? Daar is elke week ’n nuwe een wat beloftes maak om ’n paar kilos af te skud …

Die eetplangeheim

Nou gaan ek vir jou verduidelik en die vrae beantwoord. Dalk is jy reeds bewus daarvan, dalk nie, maar vandag maak ons die eetplangeheim bekend!

Die voordele van eetplanne

Eetplanne het voor- en nadele. Die voordeel is dat al die dinkwerk vir jou gedoen is. Alles is klaar uitgewerk. Jy weet presies wat jy mag en wat jy nie mag eet nie. Die kalorieë is ook uitgewerk. Jy volg bloot die dieet en verloor gewig. Dit is eenvoudig en hou baie vroue gemotiveerd.

Die nadele van eetplanne

Maar daar is ook ’n hele paar nadele. Jy dink die spesifieke eetplan is die nuutste wonderwerk wat vet vir altyd gaan verbrand. Jy eet nou beter, maar jy word elke dag beperk en dit voel na ’n opoffering om so te eet.

Jy het eintlik geen idee hoekom hierdie eetplan nou die nuwe vetverbrandingswonder is nie. Jy glo jy mag nooit weer suiker eet, saam met die familie ’n braai geniet of selfs ’n vrug eet nie, want dit bevat mos suiker!

Sommige van die diëte verbied vaste kosse. Jy moet vir weke en selfs maande net ’n hele klomp skommels drink. Jy voel moeg, depressief en ongeduldig. Hoewel jy die eerste twee weke mooi gewig verloor het, gebeur daar niks verder nie en jy gooi handdoek in.

Jy begin emosioneel by kos betrokke raak en sien dit as ’n euwel wat jou gewig laat optel, al kyk jy net daarna. Dis hoekom jy ’n eetplan moet verstaan en hoekom eetplanne wat jy blindelings koop, baie nadelig is.

Nou moet jy mooi verstaan: Daar is geen, absoluut géén spesifieke eetplan wat die beste is vir gewigsverlies nie. Jy kan enige een volg, selfs een wat vir jou lekker is, solank dit saamgestel is volgens jou kalorieë.

’n Kalorie bly ’n kalorie

Ek is seker jy dink nou: Is jy van jou sinne beroof? Hoe kan dit wees? Wel, kortliks, ’n kalorie bly ’n kalorie, of dit kom van ’n sny brood of ’n aartappel, dit is ’n kalorie. Maar moet nou nie dink dat jy elke dag heeldag net oliebolle kan eet nie. Glad nie! Ek gaan nog alles verduidelik.

Wat is die verskil? Die brood se voedingswaarde is baie laer as dié van die aartappel. Die aartappel het baie meer vesel, wat goed is vir jou bloedsuiker, en bevat natuurlike, goeie voedingstowwe.

Die sny witbrood verteer vinniger; en jy sal gouer honger voel en weer wil eet. Maar 100 kalorieë brood gaan jou nie meer gewig laat optel as 100 kalorieë aartappels nie.

Dit is hoekom so baie verskillende eetplanne jou gewig laat verloor. Hulle is baie laag in kalorieë, gevolglik eet jy minder kalorieë as wat jou liggaam benodig. Jy verloor dus gewig.

Sommige diëte werk beter as ander

Van die eetplanne werk beter vir sommige mense as vir ander, want dit bevat kossoorte wat jou langer versadig laat voel. Of dit pas by jou voorkeur van kossoorte. Dit maak dit dus makliker om by die plan te hou.

Party vroue kan ook meer verloor as ander omdat hulle gewigsinstandhoudingkalorieë hoër is as iemand anders s’n. Hulle het ’n hoër kalorietekort en dus sal hulle meer verloor.

As jy van meer vette in jou dieet en minder stysel hou, sal ’n hoëvet-en-laestyseldieet wonders vir jou doen. Dit sal maklik wees om te volg. Maar as jy iemand is wat niks van vetterige kos hou nie en eerder stysel wil eet, sal ’n hoëvetdieet aaklig wees. Jy sal waarskynlik ook met die eerste geleentheid wat daar is, meer stysel eet.

Die dieet sonder vervaldatum

Die beste eetplan is die een waarby jy lewenslank kan hou. En daarmee stem ek 100% saam. As jou dieet ’n vervaldatum het, moet jy stop en oorbeweeg na iets wat jy oor lang termyn kan handhaaf. Anders gaan jy nie meer kan uithou nie en terugval in jou ou gewoontes.

Om ’n eetplan te volg wat meer kosse met hoë voedingswaarde bevat is nie net beter vir jou gesondheid nie, maar dit sal jou suikervlak beheer en jou langer versadig laat voel. Jy sal nie heeltyd lus wees om iets te eet nie.

Nog ’n rede hoekom mense makliker gewig verloor sodra hulle op ’n spesifieke eetplan gaan, is omdat jou eetgewoontes verander, al is dit net vir ’n rukkie.

Gaan daar ’n paar beperkings of voorwaardes wees as jy besluit om beter te eet en gewig te verloor? Ja, daar gaan. Soos ek verlede week genoem het, daar sal sekere beperkings wees, maar nie algehele beperkings nie. Ons sal nog verder hieroor gesels.

Hoe pas ek hierdie nuwe inligting in my lewe toe?

Hoeveel kalorieë benodig ek? Moenie bekommerd wees nie, ons gaan al hierdie onderwerpe nog bespreek. Vir eers wil ek hê jy moet weet dat jy gaan leer hoe om jou eie persoonlike eetplan op te stel wat jy lewenslank sal kan volg. Jy sal gesond kan leef sonder verskriklike beperkings.

Jou takies vir die week:

Jy gaan jou een oefensessie doen en dan moet jy probeer om elke dag een liter water te drink. As jy sukkel om skoon water te drink, probeer dit opkikker met aarbeie, ment of lemoenstukkies. Jy kan ook suikervrye gegeurde water drink.

Hoe kan jy meer water inkry? Deel dit op in 100 tot 200 ml eenhede per dag. Drink ’n glas wanneer jy opstaan, voor elke ete en weer voor jy gaan slaap. As jy die gewoonte aanleer sal jy sien hoe maklik dit is om twee of meer liter water per dag te drink.

Dan wil ek ook hê dat jy meer vesel by jou etes inwerk. Mik vir ten minste 20 g vesel per dag. Hoe doen jy dit? Kyk agter op kosprodukte of soek op die internet as dit nie in ’n verpakking kom soos volgraanbrood of hawermout nie. Eet meer groente, vrugte en volgraanvoedselsoorte om jou vesel te verhoog.

Dit is al vir die week:

  1. Een oefensessie.
  2. 1 L water per dag.
  3. 20 g vesel per dag.

Sien jou volgende week!

OEFENSESSIE 2

20 sekondes vir elke oefening met 15 sekondes rus tussen die verskillende oefeninge

  1. Staande knie oplig
  2. Boudskop
  3. Heen en weer spring en grond raak
  4. Springtou spring (spring sonder tou)
  5. Hurke (sonder stoel)
  6. Knie-opstote
  7. Plank
  8. Donkieskop, regs
  9. Donkieskop, links
  10. Afwisselende been oplig
  11. Crunches (voete gelig)
  12. Dubbele pols boudspierbrug
  13. Sywaartse been oplig met gebuigde knie (brandkraan), regs
  14. Sywaartse been oplig met gebuigde knie (brandkraan), links
  15. Staande boudterugskop, regs
  16. Staande boudterugskop, links
  17. Staande sywaartse been oplig, regs
  18. Staande sywaartse been oplig, links
  19. Beginner- sywaartse plank (knieë op vloer), regs

Beginner- sywaartse plank (knieë op vloer), links

error: Inhoud Is Beskerm!