Ons is nou die heel belangrikste

Daar is ’n gesegde wat lui: As ek moet kies tussen my en jou, kies ek óns – want tussen my en jou, is óns die belangrikste! Wanneer paartjies begin uitgaan gebeur dit natuurlik om mekaar eerste te stel.  Jy sit jou heel beste voetjie voor en sal omtrent enige iets doen om dit so te hou. Later eers kom ons ware kleure.  Ons bly nie meer stil soos as ons kwaad of ongelukkig is nie, en ons loop onversorg rond. Jy erken jou moegheid. Sonder dat ons dit werklik besef, verflou dinge mettertyd. Ons kyk anders, praat anders, kies anders en doen anders. As ons ongelukkig is oor iets, is die belangrikste doelwit om ons stem te laat hoor, ons maat te laat besef dat hy of sy sekere dinge verkeerd doen, alles waarvan ons beskuldig word te regverdig, en te fokus op “ék”. Baie paartjies snap hierdie dinge te laat. Baie sien nie die verflouing raak nie en verval in roetine. Ons leef in ontkenning en dink ons voel maar so omdat die lewe gejaag is en ons moeg is. Dalk is elke huwelik se beste strategie vir oorlewing en geluk om juis terug te gaan na die aanvanklike plan – om jou maat eerste te stel en te besef dat jy nie net kan oorleef nie.

 

Wat beteken verbond? In die Bybel word die woord “verbond” die eerste keer gebruik wanneer God met Noag ’n verbond sluit. In Genesis 17:2 lees ons van die bekendste verbond: “Ek maak nou ’n verbond wat vir My en jou aan mekaar sal verbind …”  Jy het dit dalk al dikwels gelees, maar het jy al ooit régtig oor hierdie verbond gaan dink? Ons belowe ewe plegtig voor die predikant, voor God en gemeente. Tog verstaan ons nie dat daar ’n verskuiwing in die gees kom wanneer ons daardie belofte en eed aflê nie. Ons besef nie hoe ernstig daardie oomblik van “ek belowe” is nie.  Met verbond wil God hê dat ons dít wat vir ons belangrik is, of waarin ons ons identiteit probeer vind, neerlê. Dis amper asof God wil sê: Verwyder jou trots (eie ek). Lê dit neer.

 

Dalk wil God hê dat ons met verbond ons hart sal oopmaak teenoor Hom. Dat ons ontbloot sal staan, met niks wat weggesteek is nie. Hoe jy dit ook al verstaan – daar is ’n diepe verborgenheid in hierdie verbond se heiligheid. In die huwelik is daar ’n wonderlike resep om jou hart oop te maak teenoor jou verbondsmaat, om oop te leef sonder enige geheime met ’n bereidwilligheid om alles van jouself te deel. Dit bring jou by iets heiligs wat God self beskerm! Om jou trots (eie-ek en selfsug) neer te lê in die huwelik en jou hart ten volle oop te maak teenoor jou maat, is twee dinge wat nie juis natuurlik kom vir almal nie. Hierdie trots maak ons selfsugtig en eiegeregtig. Dit laat ons meer neem as wat ons wil gee. Ons houding, dade, woorde en keuses bring ons soms in die moeilikheid, en dan hou hierdie trots ons daar! Om ons hart eerlik en ten volle aan mekaar te openbaar verg geweldig baie vertroue en respek – ’n wete dat ons emosioneel veilig is met mekaar se diepste geheime.  Dit klink soos twee klein dingetjies, maar almal wat al lank genoeg  getroud is, sal weet: Trots  word nie sommer afgelê nie. Ons sal veg vir ons eie opinie en behoeftes, maar jammer sê of aanpassings maak? Nie sommer nie! As jou hart boonop al genoeg kere vertrap of geïgnoreer is, maak ons daardie afdelinkie eerder dig toe. Met sulke seer leer ons mettertyd om onsself teen ons eie huweliksmaats te beskerm. Ons bou mure om ons hart en  sluit mekaar uit. Dit terwyl God wil hê dat verbond ons moet saambring en in eenheid laat leef. As jy werklik jou huwelik nuut wil maak, of net weer ’n vars stuk liefde wil gee, is dit dalk waar jy moet begin.

 

Liefdesuitdaging 1

 

Wys jou prioriteite dat jy bereid is om jou maat se behoeftes te eer en respekteer?

Of kom jou eie wense altyd eerste?

error: Inhoud Is Beskerm!